Sunday, August 8, 2010

Helpmekaar wen VIER bekers!



Helpmekaar het Saterdag ‘n puik prestasie behaal toe al vier spanne hulle wedstryde in die finale van Goue Leeus Beeldtrofee- kompetisie vir Grootskole gewen het. Dit is die eerste keer sedert privatisasie in 1994 dat Helpmekaar al vier trofeë gelyktydig kon wen.

In die eerste wedstryd het die o/16-span die moedige span van Roodepoort met 29 – 14 geklop. Die span moes baie hard werk nadat Roodepoort aanvanklik die voortou geneem het. Twee vinnige drieë net voor halftyd het egter die wedstryd beklink vir Helpmekaar.

Die o/15-span het Jan Viljoen redelik maklik met 31 - 19 geklop in ‘n eensydig wedstryd. Twee laat drieë deur Jan Viljoen het die telling beter laat lyk. Die o/15-span is die verdedigende Beeldtrofee kampioene
.
Die o/14- span het ook redelike maklik gewen met 31 – 0 teen die span van Riebeeckrand, ten spyte van verskeie vreemde beslissings teen hulle. Die o/14-span het vanjaar slegs 3 punte afgestaan in die liga, insluitend die semi-finale en finale.

Die eerste span het die beste prestasie van die dag gelewer deur Riebeeckrand met 64 – 0 te verwoes. Die span was vlymskerp en het 9 drieë ingeryg in ‘n puik vertoning van hardloop-rugby. Bassie van Heerden het 3 drieë gedruk en Quinton Norris twee. Riebeeckrand het geen antwoord gehad vir Helpmekaar se totale-rugby nie. Die wedstryd sal sekerlik onthou word as een van die beste vertonings ooit van enige span in ‘n eindstryd in Gauteng.

Helpmekaar se vier spanne dring direk deur na die Kwarteindrondte van die Beeldtrofee op 7 Augustus. Die wedstryde sal plaasvind by Helpmekaar se velde.