Sunday, August 8, 2010

Al vier Helpmekaar spanne deur na semi-finale!


Helpmekaar het Saterdag een van hulle beste rugbydae in hulle 89-jaar geskiedenis beleef,toe al vier spanne hulle kwarteindstryd wedstryde in die Beeldtrofee vir Grootskole gewen het.

Die 0/14-span het die moeilike span van Transvalia met 17-12 geklop, in ‘n klipharde wedstryd.

Die 0/15-span het hulle puik seisoen voortgesit en die span van Hugenote met 26-12 geklop. Helpmekaar se kaptein en agtsteman, Johan van Rensburg, het ‘n puik wedstryd gehad, en 16 van sy span se punte aangeteken. Hy het geslaag met twee reuse strafskoppe van by die 50 meter.

Die 0/16-wedstryd was ‘n taai en senutergende stryd tussen twee spanne wat nie wou bes gee nie. Helpmekaar moes die laaste paar minute desperaat op hulle doellyn verdedig, voor hulle dit kon deurtrek met 10-6 teen die span van HTS Vereeniging.

Helpmekaar se eerstespan het hulle puik vertonings van die laaste ruk voortgesit en die span van Klerksdorp met 36-3 afgeransel.

Helpmekaar se Goue Leeus Akademie heelagter, Quinton Norris, het ‘n puik wedstryd beleef en somtyds die verdediging van Klerkdorp oorhoops gehad. Sy teenvalle van agter was iets om te aanskou en het hy drie drieë gedruk. Quinton het reeds vanjaar 17 drieë gedruk, wat hom een van die top driedrukkers in Suid-Afrikaanse skole rugby maak.

Helpmekaar se pak voorspelers het die basis gelê vir hulle blitsige agterlyn om 6 drieë te druk. Slot, Alex du Plooy, het ook ‘n puik wedstryd beleef en het orals op die veld opgeduik. Helpmekaar speel eerskomende Saterdag teen Hoërskool Standerton in die semi-finale op Helpmekaar se velde.